Entertainment

Liefde wat jou sal laat glimlag

Liefde wat jou sal laat glimlag

Wanneer laat het ‘n kliphard in die kar saam met die radio gesing? Luister dan uit vir Michael Blignaut se eerste enkelsnit, Naglig.

Nes die bekende Jimi Hendrix glo Michael Blignaut dat musiek jou moeiteloos kan laat goed voel oor die lewe.

En jy hoef net sy eerste enkelsnit, “Naglig” te luister om te verstaan hoekom. Dit is ’n kombinasie van mooi liefdeslirieke en ’n lekkerluister-wysie, wat beloof om die luisteraar se voete behoorlik te laat jeuk.

Dié dertig-plusser se eerste liefdesballade is geskryf deur Vaughan en Nerine Gardiner en gaan oor daardie spesiale iemand wat weer liefde en geluk in jou lewe kan bring.

“Toe ek besluit het dat dit tyd was om ’n enkelsnit op te neem, het ek by Vaughan Gardiner gaan aanklop vir hulp. Ons het uit die staanspoor goed oor die weg gekom en dit was net ’n plesier om saam met so ’n professionele en musikale genie te kon werk,” sê die sanger oor “Naglig”, wat by Muse Productions se ateljee opgeneem is.

“Ek hou van lirieke wat ’n mooi storie vertel en glo dat die meeste ouderdomsgroepe by my eerste liedjie sal aanklank vind. Ons, as mense, is tog van liefde aanmekaargesit. Ek glo ook dat liefde vir geen twee persone dieselfde is nie en as jy na ’n liefdesballade luister, maak dit verskeie emosies in jou wakker wat jou op daardie oomblik laat goed voel.”

’n Musiekvideo van die snit word ook vir later vanjaar beplan, maar daaroor wil die ster nie veel meer verklap nie.

Michael het in Piet Retief grootgeword en sing al van kleins af Danie Botha se liedjies saam met die radio.

Alhoewel hy gereeld aan skoolkonserte deelgeneem het, het hy eers later in sy lewe besluit om sy musiektalent ’n kans te gee. Hy het aan verskeie kompetisies deelgeneem, waaronder Ons Soek Die Sanger, The Voice SA en Die Kontrak, maar sonder veel sukses, omdat dit nie die regte tyd was nie.

Na skool het hy besigheidsbestuur en toerisme studeer by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, waarna hy sy ouers gaan help het by hulle restaurant en gastehuis, wat later uitgebrei het. Hy was egter nooit van plan om sy musiekdroom heeltemal prys te gee nie en het besluit om deel te word van ’n musiekgroep met die naam MP5, wat oor naweke by funksies en troues musiek maak.

Dié groep het ook al die geleentheid gehad om twee keer in Mozambiek op te tree en die gehore het dit baie geniet.

“Ek het grootgeword in ’n huis waar musiek altyd gespeel en geniet is.

“Beide kante van my familie is musikaal, maar ek dink die grootste invloed is my ma se oorlede pa wat verskeie musiek instrumente kon speel en ’n ware musikant in eie reg was. Musiek is dus in my bloed,” verklap hy.

Verder is hy ook baie betrokke by sy kerk se lofsangbediening en by sy ouers se besighede.

As hy enige ander loopbaan moes kies, sou hy ’n mediaskakelbeampte wou word, omdat hy die vermaakbedryf baie interessant vind, maar verklap dat hy ook graag sy eie mansklerereeks sou wou hê.

Wanneer hy nie sing nie, geniet hy dit om te reis en beplan juis om Desember ’n bietjie weg te breek Maldives toe. Hy luister ook graag na ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Riana Nel, Dewald Wasserfall, Michael Bublé, Celine Dion, Calum Scott en Adam Levine uit as sy gunstelinge. As hy eendag die geleentheid kry, sou hy ook graag saam met kunstenaars soos ADAM, Caroline Grace en Monique Steyn wou werk.

“Daar is so baie inspirerende mense en vriende na wie ek opkyk in die bedryf, soos Ramey Short wat nie toegelaat het dat sy verlede sy toekoms bepaal nie, en ek leer baie by hulle,” sê hy.

Die musiekbedryf het vir Blignaut geleer om positief te bly, hard te werk vir wat hy wil hê en getrou te bly aan wie hy is. “Naglig” is die perfekte kombinasie van treffende lirieke en ’n meesleurende melodie, wat sy stem soos ’n handskoen pas.

As dié treffer enige aanduiding is van wat hy beplan, wag daar voorwaar ’n blink toekoms op hierdie talentvolle kunstenaar in die musiekwêreld.

Vir meer oor Michael volg hom op Facebook en Instagram.

 

October Spoil

Welcome summer with an extraordinary rosé.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.