Entertainment

Hoe het Steinhoff gebeur?

Hoe het Steinhoff gebeur?

As jy steeds agter die kap van die byl probeer kom oor die Steinhoff-sake, sal jy beslis jou hande op hierdie sakeriller moet kry. Dit verduidelik die grootste finansiële ineenstorting in SA se geskiedenis soos nooit tevore.

Op Dinsdag 5 Desember 2017 was die Steinhoff-groep nog R193 miljard werd. Skaars 24 uur later is meer as R117 miljard daarvan uitgewis. Die Steinhoff-ryk, wat oor die 50 jaar as ’n internasionale kolos opgebou is, het oornag verkrummel.

Markus Jooste, Steinhoff se flambojante grootbaas, het bedank en sedertdien val geraamtes die een na die ander uit sy kas: bewerings van bedrog, spoghuise vir ’n blonde minnares en ’n lewe van oordaad.

Wat presies het hier gebeur? Wie het wat geweet? Wat is Steinhoff, wie is Markus Jooste en wat het dit alles met die sogenaamde “Stellenbosch-mafia” te doen? Hoe pas die magnaat Christo Wiese, Shoprite en Pepkor in en waar is die pensioenarisse se geld heen?

Die bekende skrywer James-Bret Styan beantwoord dié en ander vrae in hierdie sake-exposé van die jaar, Steinhoff en die Stellenbosse Boys.

Die boek is die eerste volledige weergawe van hierdie verstommende verhaal van die grootste finansiële ineenstorting in die geskiedenis van Suid-Afrika. Deur onderhoude met tientalle betroubare bronne in die binnekring, inligting uit vertroulike dokumente en diepte-navorsing oor Steinhoff se geskiedenis, onthul Styan die binnewerkinge van die groep.

Steinhoff en die Stellenbosse Boys is ’n boeiende sakeriller wat nog dekades lank in raadsale sowel as sitkamers oorvertel sal word. Steinhoff en die Stellenbosse Boys is teen R280 by uitgesoekte boekwinkels regoor die land beskikbaar, *LAPA Uitgewers.

Meer oor die skrywer:

James-Brent Styan het in 2003 as ’n rekenmeester gekwalifiseer en daarna sy klerkskap by ’n ouditeursfirma voltooi voordat hy ’n sakejoernalis geword het. Hy het vir jare vir onder meer Finweek, Forbes Africa, Sake24, Beeld en Die Burger geskryf en werk tans in kommunikasie. Steinhoff is Styan se derde boek. Sy ander titels sluit in: Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting en Blackout – The Eskom Crisis.

 

October Spoil

Welcome summer with an extraordinary rosé.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.