People

Besiger, besigste, Bouwer Bosch

Besiger, besigste, Bouwer Bosch

Bouwer Bosch is bekend as sanger, akteur, filmvervaardiger en nou maak hy selfs televisie-advertensies wat die land aan die skater het.

Aanhangers ken hom meestal vir sy werk voor die kamera – as sanger of akteur – maar Bouwer Bosch is besig om groot naam vir homself agter die kamera ook te maak. En sy storie het reg hier in Pretoria begin.

“Pretoria is lewendig, opwindend, optimisties, ryk aan kultuur en oop vir jou idees,” gesels Bouwer en vertel dat hy veral gek is oor die middestad.

“Ek onthou toe ek saam met Deon Meiring van Glaskas in Centurion gewoon het, het ons gereeld Sondae sommer met ons kitare op Kerkplein gaan sit en speel of sommer net foto’s en videos daar geneem. Daar was ook elke Donderdagaand sulke akoestiese ‘unplugged’ aande waar jy kon musiek maak en jou liedjies deel met mense by Bravo’s Pizza. Dit was van die beste tye ooit,” vertel hy verder.

Deesdae is die aantreklike kunstenaar bekend is as hoofsanger van die groep Straatligkinders se naam sinoniem met veel meer as net sy musiek.

Hy hou sy lyf ook akteur, filmmaker en meer.

In sy jongste film, Thys & Trix, wat Julie landswyd in teaters te sien sal wees, is Bouwer in die hoofrol teenoor sy vroulief, Leandie du Randt Bosch te sien. Dit is die eerste keer dat die paartjie saam as hoofkarakters in aksie te sien sal wees.

“Om saam met Leandie te werk was ’n wonderlike ervaring en ons het baie van mekaar geleer. Sommige paartjies gaan stap saam die Otter-staproete om hulle verhouding te toets. Ons het sommer ’n fliek gemaak,” lag hy.

Maar moenie dink om films te maak is grappies nie. Op die stel van Thys & Trix het hulle soms tot 12 ure per dag op stel spandeer en hulle werksdae het gewoonlik al sesuur in die oggende begin.

Bouwer vertolk die rol van Thys, ‘n redelike agtermekaar en netjiese ou wat nie van verandering en vreemde situasies hou nie.

“Hy het goeie intensies maar voer nie sy idees goed uit nie. Hy hou vir Trix terug in haar droom om ’n speurder te word en is so ’n klein bietjie oorbeskermend teenoor sy sussie,” sê Bouwer.

Aanhangers wat nie kan wag om die film te sien nie kan ‘n lekker aksiekomedie familie-film met ’n ongelooflike rolverdeling verwag.

“Die film is gevul met lekker aksie, komedie maar ook ’n mooi storie tussen ’n broer en ’n suster,” gesels Bouwer.

Maar, erken Bouwer, hy is veel meer van ‘n musikant as ‘n akteur.

“Ek benader toneelspel anders as Leandie, so ek het nuwe respek gekry vir hoe sy rolle aanpak,” voeg hy by.

Behalwe om sy lyf akteur te hou, is Bouwer ook aan die stuur van sy eie filmmaatskappy, Bouwer Bosch Films.

“Ek het BBF sowat 10 jaar gelede as student begin omdat daar baie bands in Potch was en ek vir almal musiekvideos wou maak. Ek hou van stories vertel, in alle mediums, en musiekvideos is eintlik net soos kortfilms. Die filmwerk het eers werklik begin toe ek en my vriend, Bennie Fourie, besluit het ons wil ’n kortfilm vir die Silwerskermfees inskryf. Die film het intussen in die vollengte film, Vuil Wasgoed, verander,” verduidelik Bouwer.

Alles het egter nie oornag gebeur nie.

“Een ding wat ek geleer het is dat alles tyd vat. ’n Film is omtrent ’n tweejaar-projek – vandat die teks begin ontwikkel word totdat die eindproduk op die silwerskerm wys. Daar is soveel fasette aan ’n film en dis onmoontlik om oral betrokke te wees. Ons het Thys & Trix saam met die bekende vervaardiger Danie Bester vervaardig en ons het so baie by hom geleer. Soos dat wanneer jy die film skiet, jy soms moet leer om jou akteurshoed af te haal en jou vervaardigerhoed op te sit en keuses te maak rondom die besigheidskant van die film en nie die kreatiewe kant nie,” verduidelik Bouwer.

Behalwe dat die twee saam films maak, het Bouwer en Bennie ook kragte saamgesnoer en saam ‘n advertensiemaatskappy, Freckle Creative, gestig.

“Ons doen al lank vir King Price Insurance aanlynkomediesketse rondom hul handelsmerk en produkte. Komedie is ons gunsteling genre en nadat ons vir omtrent twee jaar vir hulle aanlynsketse gedoen het, het ons hulle gevra of ons ’n TV-advertensie vir hulle kan pitch – en toe gebeur die trekker-advertensie, “ voeg Bouwer by.

Maar hoe op aarde kry hy tyd vir al sy projekte?

“As jy twee Bar One’s ’n dag eet, het jy 50 ure in jou dag,” lag Bouwer, maar raak dan vinnig weer ernstig.

“Dit gaan maar oor beplanning. As jy mooi beplan kan jy baie gedoen kry. Dit help ook om amazing mense om jou te hê. As jy jouself omring met mense beter as jy, help dit ook. Ek het ook al geleer dat dit okay is om iemand anders te vertrou met jou idee en dat hulle net wil help om jou te help, so om te outsource is ook deel van die speletjie.”

En hoe kry hy en Leandie, wat in 2015 getroud is, tyd vir mekaar te midde al die projekte?

“Dit lyk of mens net konstant werk, maar ons weet ook hoe om vir ses ure na mekaar Grey’s Anatomy episodes of ’n goeie Netflix-reeks te kyk. Ons het realistiese verwagtinge van mekaar en verstaan dat ons albei net mense is wat nog elke dag groei, elke dag as mens verander en ook maar foute het,” sê Bouwer.

Vir nou is hy besig met bemarking vir Thys & Trix, maar hy is ook kliphard besig om musiek te maak.

“Films vat baie tyd en fokus en ek het nou vir drie jaar baie van my tyd en energie daarin ingesit. Ek sien daarna uit om net weer op my musiek te fokus. Ons wil definitief meer tyd en energie ook aan ‘Freckle’ spandeer om te kyk hoe ons ons komedie handelsmerk met Suid-Afrika en die wêreld kan deel.”

Thys & Trix is vanaf 22 Junie in teaters landswyd so maak seker jy kry jou kaartjies. 

 

August Spoil

Chocolate biscuits … and a luxury breakaway

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.