Entertainment

Rona van Blerk is beslis ‘n kunstenaar om dop te hou

Rona van Blerk is beslis ‘n kunstenaar om dop te hou

As jy nog nie van Rona van Blerk gehoor het nie, moet jy beslis verder lees. Haar musiek is fantasties!

Rona van Blerk, ’n passievolle donkerkop met ’n sielvolle stem, is vinnig besig om vir haarself naam te maak in die musiekbedryf en ons kan nie genoeg van haar goue stem kry nie.

Haar eerste enkelsnit, Veilig, is onlangs uitgereik en musiekliefhebbers is behoorlik gaan daaroor.

Die liedjie is ’n Afrikaans-akoestiese liedjie met ’n unieke pop-aanslag uit haar eie pen en gaan daaroor dat elke mens graag veilig wil voel, ten spyte van terugslae in die lewe. Die treffer is die perfekte pasmaat vir die nuweling se sterk, strelende stem en is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind.

“Persoonlike ondervinding het my geleer dat jy selde so veilig is as wat jy dink,” vertel die sangeres.

“Ons het in vandag se tyd dit juis so broodnodig dat mense weer eerlik en opreg moet wees en ek wou hê dat die liedjie luisteraars se harte moes vasgryp, sonder om te swaar oor te kom. Die lirieke is diepsinnig en is gebore uit my eie lewenservaringe. Dit is bevrydend om te kan sing oor dít wat mens onveilig laat voel, want die gevolg daarvan is geborgendheid, veral wanneer jy besef dat ander ook met hierdie gedagtes kan identifiseer,”

“Die diepste behoefte van elke mens is emosionele veiligheid… ook dít is ons nie altyd beskore nie, selfs nie binne ’n liefdesverhouding nie. Gelukkig kan ons uitsien na ’n ‘eendag’ waarin ons veilig sal wees, sonder om daardeur die hede te wil ontvlug.”

’n Musiekvideo, wat deur Lourens Luyt aanmekaargesit is, van die enkelsnit is onlangs in die bosbouplantasies rondom Piet Retief verfilm en sluit ook beeldmateriaal uit haar kinderdae in.

“Ek het in Piet Retief grootgeword en ons gesin het baie pret gehad in die plantasies. Tussen die baie bome het ek ook altyd veilig gevoel. My pa het baie moeite gedoen om gesinsvideos van my en my sussies te maak en dit was net logies om van daardie beeldmateriaal te gebruik,” verklap sy.

Rona het in ’n musikale huis grootgeword en was van kleins af versot op musiek. Haar ouers was albei in die Vrystaatse Universiteitskoor en haar pa is ook ’n gospelsanger en dominee.

Die sanggogga het haar juis finaal gebyt toe sy een Sondag, na ’n erediens, vorentoe geroep is deur Jenny van Zyl om vir die gemeente te sing.

Op skool het sy gereeld aan kompetisies en konserte deelgeneem, maar het eers op Universiteit haar musiekskoene behoorlik begin volstaan as deel van haar koshuis, Huis Soetdoring, se Sêrgroep – onder leiding van haar mentor Altus Moolman – wat baie goed presteer het.

Oor die afgelope paar jaar het sy al verskeie optredes gedoen, waaronder die Grey College Musiekfees saam met Elvis Blue toe sy vir ’n vertoning vir Andriëtte Norman moes instaan.

Die sangeres spog met ’n graad in Drama- en Toneelkunde, asook ’n Nasionale Onderwysdiploma, en sal beslis eendag ’n televisierol of twee wil losslaan. Rona geniet ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Karen Zoid en Laurika Rauch uit as haar grootste inspirasie.

Sy sal ook eendag graag die verhoog wil deel met kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Jo Black, Riana Nel, Spoegwolf en Joshua na die Reën.

As jy haar uitvra oor die toekoms, antwoord sy: “Ek is reeds besig om te beplan aan my volgende liedjies, maar wil telkens eers wag vir die muse. Elke liedjie moet gebore word… ek is versigtig vir kommersiële oorhaastigheid.” Intussen hou sy die pot aan die kook as deeltydse onderwyseres in haar tuisdorp.

Die musiekbedryf het vir Rona geleer dat dit belangrik is om jou eie klank en styl te vind.

Veilig is die perfekte kombinasie van treffende lirieke en ’n meesleurende deuntjie, wat haar stem nie net op sy beste laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om saam te sing.

Net soos die karakter in die fliek, August Rush, glo sy in die krag van musiek soos wat ander mense in feëverhale glo en haar eerste enkelsnit het beslis genoeg betowering om vir haarself ’n eie suksesvolle sprokie te bou in die toekoms.

Kyk hier na Rona se jongste musiekvideo:

Vir meer oor Rona en haar musiek volg haar op Facebook, Twitter en Instagram.

 

WIN: A R5 000 Voucher for treatments of your choice.


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.