Entertainment

‘n Nuwe musiekvideo en album vir Adam

‘n Nuwe musiekvideo en album vir Adam

Het jy al Adam se nuwe musiekvideo gesien? Dit het die hele SA aan die gons.

Die gewilde sanggroep ADAM (Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant) se splinternuwe album, Bewe, is op winkelrakke regoor die land en iTunes beskikbaar maar dis hulle nuwe musiekvideo vir die liedjie Sê My (Bewe) wat aanhangers aan die gons het.

Dié prettige tong-in-die-kies-video, wat deur Gerhard van Rooyen van GVR Productions vervaardig is, pas perfek by hierdie opgewekte poptreffer wat geïnspireer is deur stigterslid, Hugo Ludik, se eie mislukte pogings om ’n oulike meisie by ’n kroeg raak te loop.

Dit is by Presleys in Pretoria verfilm en wys skreeusnaakse tonele van drie ouens, wat by drie ‘dames’ aanlê… maar daar is ’n catch, want die drie dames word ook deur die drie sangers gespeel! En sjoe, lyk hulle nie te ‘oulik’ nie…

Volgens Reynardt was dit baie pret om die video te skiet, maar ook nogal ’n groot uitdaging omdat hulle elkeen twee karakters moes vertolk en die bekende grimeerkunstenaar, Suna Roberts, vir hulle spesiale grimering en uitrustings hiervoor moes doen.

“Dit vat lank om so iets te skiet en ons was baie moeg, maar ek glo dat mense dit gaan geniet omdat die konsep briljant, uitdagend en baie in jou gesig is. Ek speel ’n zef ou wat verlief raak op myself as ’n vroulike karakter,” verklap hy.

Oor die idee agter die video, sê Kyle Grant: “Die liedjie self het die idee vir die video geïnspireer. Daar word basies gegrap met daardie ouens en meisies in nagklubs wat te hard probeer om ‘hot’ te wees. So dis beslis iets waarmee almal sal kan vereenselwig. Alhoewel dit lank gevat het om in elke karakter in te kom, was dit baie pret en ons het vreeslik gelag. Ons speel elkeen twee rolle, ’n zef outjie en dan die meisie waarop die outjie verlief raak. Hugo se manlike karakter is die tipiese breker en die meisie redelik desperaat. Reynardt se outjie is ’n bietjie stadig en die meisie ’n regte dame, terwyl ek regtig die zefste outjie en bitsigste dame speel wat daar is.”

Sê My is die eerste enkelsnitvrystelling vanaf die SAMA- en Ghoema-bekroonde trio se jongste album.

Kyk hier na die video:

Die album bestaan uit 11 splinternuwe snitte wat wissel tussen voetstamplekker-dansliedjies, sielvolle hartsballades en kreatiewe verwerkings van ou gunstelinge. Die inhoud van hierdie vrystelling was ’n spanpoging deur Hugo Ludik, Reynardt Hugo, Vaughan Gardiner en Nerine Gardiner. Dit sluit ook ’n duet Kalmeer met Kyle se vrou in, wat beloof om selfs die mees kritiese oor tevrede te stel.

“Die tema van die nuwe popalbum is emosionele patriotisme. Dis om deur ’n lens te kyk van iemand wat ’n trotse Suid-Afrikaner is. Ons sing oor ons pragtige meisies, ons pragtige land en ons geskiedenis en toekoms,” vertel Kyle Grant. “Ons het besluit om ons luisteraars te bederf met 11 splinternuwe snitte asook liedjies wat hulle ken. Daar is ook ’n definitiewe groei in ADAM se styl en ’n volwassenheid wat in ons nuwe musiek deurkom,” voeg Reynardt by.

Vir meer oor ADAM volg die groep op Facebook, Twitter of besoek hulle webtuistes by www.adamband.co.za.

 

July Spoil

The warmest, most luxurious blankets imaginable.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.