People

’n Gawe van bo

’n Gawe van bo

Met meer as 400 liedjies agter sy naam is Johan Vorster een van ons land (en Pretoria) se voorste liedjieskrywers. Ons leer hom ‘n bietjie beter ken.

Sy naam is reeds vir jare sinoniem met van Suid-Afrika se grootste treffers en in musiekkringe is Johan Vorster ‘n naam om mee rekening te hou.

Min sou egter kon raai dat hy as jong seun eintlik van ‘n loopbaan in ‘n heel ander rigting gedroom het. “Ek wou altyd graag ‘n argitek word, maar ek was so 14 jaar oud toe ek hierdie gevoel gekry het dat ek dalk veel eerder met ‘n loopbaan in musiek sou opeindig,” gesels Johan, wat saam met sy gesin in Olympus woon.

Musiek is nog altyd deel van sy lewe en sy jare as deel van die Drakensberg Seunskoor sou hom voorberei op wat eendag op hom sou wag … ‘n loopbaan as een van die mees suksesvolste en
gerekende liedjieskrywers van sy tyd.

Aanhangers ken hom as deel van Eden, een van Suid-Afrika se bekendste mansgroepe, maar deesdae bevind hy hom veel eerder agter die skerms as op die verhoog.

“Ek en Sean Else het in die beginjare van Eden ons eie platemaatskappy begin en tydens die maak van ons eerste amptelike kunstenaar, Bok van Blerk, se album De la Rey het ek reeds geweet dat ek gemakliker in die ateljee is as op die verhoog,” vertel hy.

Johan is die meesterbrein agter treffers soos De La Rey (Bok van Blerk), Jy Soen My nie Meer Nie (Lianie May), Toe Stop My Hart (Karlien van Jaarsveld) en sowat 30 ander treffers, maar sy inspirasie kom van ietwat ongewone plekke.

“Die inspirasie van my liedjies kry ek uit goeie ou films, goeie kos en goeie mense,” gesels hy.

En natuurlik is alles ‘n proses en gebeur nie sommer maar net nie.

“Ek het al ‘n liedjie in 10 minute geskryf, maar ander liedjies hou my besig vir maande of selfs jare,” verduidelik hy.

Sowat 400 liedjies het reeds deur sy pen die lig gesien en hy reken daar is sowat 150 idees wat op die oomblik op sy foon opgeneem is en wag om in liedjies omgetower te word.

“Omtrent so een persent van hulle sal dalk eendag die lig sien,” lag hy.

Bekende kunstenaars soos Lianie May en Bok van Blerk het hulle loopbane aan Johan te danke en die treffer De la Rey het selfs bekendheid in Amerika verwerf.

“Ek het vroeg in my lewe besef dat musiek ‘n gawe van bo is. Ek het besef dat die Here in alles om my is, veral in die musiek wat ek hoor. Ek sal altyd aan Hom al die eer gee en ek glo dat Hy my ore sal oophou om mooi musiek te skryf totdat ek die dag omval. Ek is elke dag ontsaglik dankbaar vir die onverdiende talent wat Hy my gegee het,” vertel hy verder.

As liedjieskrywer het Johan al sy hand aan verskillende mediums gewaag, insluitend albums, verhoogproduksies en ook films. “My proses van skryf bly dieselfde vir alle mediums. Ek skryf in prentjies en in beelde. Ek droom van verre lande, plekke en mense as ek skryf, maar die meeste materiaal wat ek skryf is fiksie,” verduidelik hy.

As hoof aan die stuur van die produksiemaatskappy Inhoud Huis is Johan ook medevervaardiger van die Afrikaanse film Susters. Die film vertel die verhaal van drie aangenome susters wat van mekaar vervreem raak en op ‘n ontdekkingsreis gaan na die afsterwe van hulle moeder.

“Dis ‘n baie goeie film. Die teks is avontuurlustig met baie fyn humor. Dis baie mooi geskiet en die aktrises en akteurs is oortuigend. ‘n Mens voel goed as jy uit die teater uitstap, so asof jy vir ‘n drankie saam met ‘n klomp goeie vriende wil gaan en die aand saam verder omkuier,” verduidelik Johan.

Om tyd te kry vir al sy projekte staan hy al soggens vyfuur op, skerts hy. Hy is besig met die hervrystelling van mede-Pretorianer en sanger, Appel, se album en dan moet Jan Bloukaas se album ook nog klaar. “Ek is ook klaar geskryf aan Leah se volgende album wat ongelooflik goed gaan doen en ons begin een van die dae aan Jo Black se nuwe album werk. Dan is daar nóg ‘n film wat ons ontwikkel en ‘n paar ander projekte waarna ek baie uitsien … Maar ek kan nie nou veel meer daaroor sê nie,” lag hy.

En dan is daar natuurlik ook sy en vroulief Rencha se drie woelige klein seuntjies Joshua, Raphael en Daniel wat hom voltyds besig hou. “Familie is al waaroor die lewe gaan. Almal van ons werk maar om iets te kan agterlaat waarop jou familie kan trots wees,” sê hy ernstig.

En ja, sover blyk die drie mannetjies ook kunstig en kreatief te wees.

Daar is geen twyfel dat daar nog groot dinge op Johan en sy span wag nie. So wat sal die lewensleuse van so ‘n suksesvolle man dan wees?

“Ek nie perfek is nie. Maar so gebreek soos wat ek is, kan ek steeds ongelooflike waarde tot die mense om my se lewens voeg,” sê hy.

 

Meer oor Johan:
Wat is jou gunsteling plaaslike restaurant?
Tin Roof Café in die ooste van Pretoria. Die atmosfeer en die eienaar Jenny is onverbeterlik.
Wat is die laaste boek wat jy gelees het?
Aan die stuur deur Brand Pretorius.
Wat is die laaste film wat jy gekyk het?
Tulip Fever – ongelooflik.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My vleuelklavier wat my vrou vir my gekoop het.
Wat weet aanhangers nie van jou nie?
Ek is eintlik 21 in my hart … en ek is ‘n verskriklike groot Snotkop- fan.

 

July Spoil

The warmest, most luxurious blankets imaginable.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.