People

Spanwerk maak dinge makliker

Spanwerk maak dinge makliker

Na meer as 10 jaar in die musiekbedryf is daar steeds geen keer aan die kragtige span agter die groep Kaleidoskoop nie. Ons vind meer uit oor hul jongste album, verhouding en toekomsdrome.

Na ‘n vyf jare-lange wagproses kan aanhangers van Kaleidoskoop hulle uiteindelik verlustig in ‘n splinternuwe album Gunsteling Seisoen.

“Die skryfproses was lank en het ons omtrent vyf jaar geneem maar die album is opgeneem en binne ‘n jaar voltooi,” gesels die Kaleidoskoop-duo wat verlede jaar 10 jaar in die musiekbedryf gevier het.

Anique en Jouba Jordaan (daar is geen familieverbintenis) kén van musiek maak en die nuwe enkelsnit, Die Goeie, wat gereeld op radiostasies regoor die land gehoor word, het aanhangers behoorlik aan die gons. Ons beslis ook!

“Ons wil glo ons musiek is iets uniek en dat aanhangers so gek daaroor is omdat hulle daarmee kan vereenselwig en hulle inspireer en hul harte raak,” vertel die twee wat wortels in Rietondale het.

As groep het Kaleidoskoop al heelwat toekennings op hul kerfstok, insluitende ‘n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Beste Kontemporêre Allbum in 2012, en die paar is selfs al genomineer vir ‘n Ghoema-toekennings in die Nuweling van die Jaar, Beste Kontemporêre Album en Musiekvideo van die Jaar kategorieë.

Hulle is self vir elke aspek van hulle musiek verantwoordelik en die twee se stemme vul mekaar aan op maniere wat luisteraars soms sprakeloos kan laat.

Die groep, wat tans bestaan uit Jouba (stigterslid) en Anique, is in 2006 gestig toe die oorspronklike lede almal nog op universiteit was.

In 2007 het hul album Bladwisselend, die lig gesien maar die groep is vir eers uitmekaar totdat Anique in 2009, as hoofsanger, aangesluit het. Kaleidoskoop het in die afgelope dekade reeds die verhoog met groot name soos Mathys Roets, Theuns Jordaan, Adam Tas, Chris Chameleon en vele meer gedeel en hul musiekvideos word deur derduisende mense op YouTube gekyk.
Hulle het selfs verlede jaar hulle internasionale debuut in Australië gemaak toe hulle in Laventelveld in Geraldton opgetree het.

Hul jongste album, Gunsteling Seisoen, spog met ‘n Folk-popaanslag, met baie plaaselemente en die duo gebruik ’n kombinasie van musiekinstrumente – soos die banjo, saxofoon, madolien, kontrabas en selfs mondfluitjie.

“Ons het ’n bietjie wegbeweeg van die elektroniese styl en sterk gewoeker met ons diepgewortelde akoestiese aanslag.

“Ons het ook hier en daar die hartseer van die lewe – wat natuurlik ’n realiteit is – aangeraak en steeds probeer om mense te inspireer.

“Ons wil tuisbring dat jy tog in hartseer en moeilike tye hoop het om aan vas te hou en steeds die mooi in die lewe kan raaksien,” vertel Anique.

Selfs die album omslag is iets unieks. “Daar is vier verskillende voorblaaie, wat elkeen ’n seisoen verteenwoordig. Die binneblad is dieselfde vir almal, wat daarop sinspeel dat alhoewel omstandighede verander, die lied in jou hart onveranderd kan bly as dit ewigheidswaarde het.

“Die omslag wat luisteraars koop, verteenwoordig ook letterlik hulle gunsteling-seisoen,” verduidelik sy.

Vir nou is die twee besig met optredes regoor die land, maar hulle sê hulle sal nog graag saam met Laurika Rauch wil werk en na België toer.

Laurika Rauch is ons albei se heldin uit ons kinderjare en haar liedjies wakker soveel nostalgie en emosies in ons aan.

“Sy is ook selfs na al die jare in die bedryf nog net wie sy is, getrou aan haarself en haar musiekstyl.

“Ons bewonder haar nederigheid en warmte as mens,” verduidelik Anique.

Februarie is die maand waar die kollig nogal sterk op verhoudings val.

Enige advies?
“Wedersydse respek, ‘n goeie sin vir humor en baie geduld. Ons is gelukkig om dieselfde agtergronde te hê, so ons harte is ten opsigte van die lewe en ons musiek op dieselfde plek.

“Dit maak saamwerk baie makliker,” gesels Jouba.

Die album is landswyd by uitgesoekte musiekwinkels beskikbaar.

 

WIN: A R5 000 Voucher for treatments of your choice.


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.