Entertainment

Leesgenot vir kinders en tieners

Leesgenot vir kinders en tieners

Lekker-lees boeke vir kinders en tieners se kerskouse

Prinses Klara en die krokodil deur Laura Amy Schlitz, Illustreerder: Brian Floca

Prinses Klara se ouers glo ’n prinses moet skoon en slim en sterk wees. Daarom laat haar oppasser haar drie keer per dag bad. Haar ma lees vir haar vaal, vervelige boeke. Haar pa laat haar elke dag honderde keer touspring.

Prinses Klara is siek en sat daarvoor. Sy besluit wat sy nodig het, is ’n bietjie pret en avontuur. Daarom skryf sy vir haar towertante ’n spesiale briefie om te sê sy soek ’n hond.

Die volgende oggend staan daar ’n boks voor haar bed… maar binne-in is nie ’n hond nie. Dis ’n krokodil! ’n Krokodil wat glad nie weet hoe om hom mooi soet te gedra nie…

Prinses Klara besluit sy gaan die dag afvat. Sy beleef allerlei prettige avonture in die buitelug – sy klouter in bome rond, pluk aarbeie en raak heerlik vuil – terwyl die krokodil ’n rok aantrek, ’n kroon opsit en sy lyf prinses hou en die kasteel op sy kop keer!

Kinders sal versot wees op hierdie lawwe skaterlag-avontuur! Die boek is perfek vir voorlees of selflees. Prinses Klara en die krokodil is teen R130 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar.

 

Hoe supercool goed werk deur Ian Graham en Tom Jackson

Sal ons in die toekoms met vlieënde motors ry?

Hoe werk ’n 3D-drukker?

Kan mense regtig eendag op Mars gaan woon?

Hoe lyk dit binne-in ’n PlayStation 4?

Ontdek die verstommende tegnologiese uitvindings van die toekoms in hierdie asemrowende boek. Hoe supercool goed werk is ’n splinternuwe gids wat ongelooflike nuwe tegnologie verken, en kyk na die maniere hoe dit ons moderne wêreld vorm. Kinders sal versot wees op die innoverende uitleg.

Verstommende foto’s en illustrasies verduidelik hoe enige iets van hommeltuie en superrekenaars tot onderwater-hotelle en vlieënde motors werk.

Hoe supercool goed werk is teen R250 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar.

 

Strikdans deur Christien Neser

’n Ramp.

Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie. Elle is in matriek. Dit is veronderstel om die beste jaar van haar hele skoolloopbaan te wees. Sy is immers vanjaar hoofmeisie, sy het die beste vriende waarvoor enige meisie kan vra, sy gaan met die ou van haar drome uit, en daar is hope opwindende dinge by die skool om na uit te sien.

Maar die jaar skop op ’n aaklige noot af. Dinge tussen haar en Alex loop skielik skeef en by die skool wag ’n groot skok op almal toe die hoof, mevrou Bender, onverwags ernstig siek word. Die waarnemende hoof, doktor Grimm, voel ’n veer vir die skool se tradisies en die spesiale projekte waaraan Elle-hulle soveel tyd en aandag bestee het. Al waarin die vreemde man met sy strikdas en sy fobie vir katte belang stel, is wiskunde. Hy is vasbeslote om Gravitas die beste wiskundeskool in die land te maak.

Elle besluit sy kan nie net toekyk hoe Gravitas se trotse tradisies die een ná die ander sneuwel nie. Maar kort voor lank kom haar hoofmeisiebalkie in gedrang oor hierdie standpunte!

Christien Neser se reeks tienerboeke oor die wel en wee van Elle Kroon is baie gewild, met selfs volwasse lesers wat nie kan wag om elke nuwe Elle-avontuur te verslind nie. Hierdie een, die negende boek in die reeks, beloof om net so skreeusnaaks, aweregs en romanties soos sy voorgangers te wees.

Meer as 59 100 kopieë van hierdie uiters gewilde reeks is al verkoop. Strikdans is teen R150 by uitgesoekte winkels beskikbaar.

 

 

Spring Spoil (We’re celebrating the arrival of spring with a sundowner picnic.)


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.