Entertainment

Lekker lees boeke vir die kinders

Lekker lees boeke vir die kinders

Bederf die kleingoed die feesgetei met lekker-lees boeke vir elke ouderdom.

Hoendervleis: Grillerige stories en rympies deur Jaco Jacobs Illustreerder: Juanette Smuts

’n Nag lank in die spookkamer.

Vind uit wat gebeur as jy ’n poets op ’n onnie soos juffrou Grimbeek bak.

Waag dit om ’n paar baie spesiale handskoene aan te trek.

Ontdek die nuwe rugbyheld se grillerige geheim.

Vind uit waarom jou kleinboetie nog elke aand met sy bedlampie aan slaap.

En kom swem in die Middernagmeer… as jy dapper genoeg is.

Hierdie boek vol grillerige stories en rympies sal jou heerlik hoendervleis laat kry. Daar is ’n weerwolf wat saam op die skoolkamp gaan, ’n paar spokerige handskoene wat goed is met klavier speel, ’n baie vreemde onderwyseres – en iets wat jou die hardste van almal in die fliek sal laat gil. Jong grilvrate sal versot wees op hierdie versameling stories en rympies uit die pen van Jaco Jacobs. Hoendervleis: Grillerige stories en rympies is landwyd by uitgesoekte boewinkels beskikbaar, R130, LAPA Uitgewers.

 

Volmaan deur Jaco Jacobs Illustreerders: Nico Meyer, Kobus Faber, Alistair Ackermann en Stephen Wallace

Veertien jaar gelede het Jaco Jacobs se eerste boek, Troetelgedrog, verskyn. Nou word dit weer uitgegee in hierdie wonderlike omnibus saam met vier van sy ander boeke wat nie meer in omloop is nie: Tande, Nag van die monsters; Nagvlerke en Voelers. Ontmoet ’n onderwyseres wat op volmaannagte in ’n weerwolf verander. Ontdek ’n speelding wat allerhande vreemde dinge begin aanvang. Vind uit van ’n eksperiment wat jou in ’n insek laat verander. Besoek ’n vakansieplaas waar reuse-vlermuise snags buite rondvlieg en gaan beleef ’n grillerige monsterfliek waaruit jy nie maklik ontsnap nie. Kry jou flits uit, kruip onder die komberse in en maak gereed om lekker te ril en te gril met hierdie groot en grillerige versameling stories. Volmaan is landwyd by uitgesoekte boewinkels beskikbaar, R150, LAPA Uitgewers.

 

La di da, Lulu deur Fanie Viljoen Illustreerder: Elsbeth Eksteen

Lulu droom daarvan om eendag ’n modeontwerper te word. Niks is vir haar lekkerder as om pragtige ontwerpe in haar rooi tekenboek te skets nie. Die skool beplan ’n spesiale verjaardagfees. ’n Groot fees met lekker kos, ’n pretpark en speletjies. Daarom vra die skoolhoof vir Lulu om nuwe uniforms vir die trompoppies te ontwerp. Iets asemrowends. Iets la-di-da waarmee hulle by die fees gaan optree. Maar ongelukkig is daar ’n vreeslike misverstand – en Lulu verbrou haar enigste kans om die uniforms te ontwerp. Lulu is stomgeslaan. Een van die ander kinders in die skool gaan die klere ontwerp en maak. Maar wie? La di da, Lulu is landwyd by uitgesoekte boewinkels beskikbaar, R120, LAPA Uitgewers.

 

Lana en Rakker 7: Rakker word ’n ster deur Holly Webb. Illustreerder: Kate Pankhurst

Lana se maatjie, Lisa, is gekies om in ’n TV-advertensie te verskyn. Die enigste probleem is, dit is ’n advertensie vir hondekos – en Lisa is bang vir honde. Daarom besluit Lana om met haar hondjie, Rakker, saam te span om seker te maak Lisa skud vir eens en vir altyd haar vrees vir honde af. Maar dan kry die TV-mense onverwags ’n plaasvervanger-hond nodig – en Rakker kry uit die bloute die kans om ’n ster te word. Jong troeteldierliefhebbers sal versot wees op Lana en haar ondeunde hondjie, Rakker, se skreeusnaakse avonture. Lana en Rakker 7: Rakker word ‘n ster is landwyd by uitgesoekte boewinkels beskikbaar, R100, LAPA Uitgewers.

 

Lana en Rakker 8: Rakker en die troue deur Holly Webb Illustreerder: Kate Pankhurst

Lana en haar sussie gaan blommemeisies op tannie Emma se troue wees. Maar Rakker is baie nuuskierig oor al die gewerskaf vir die troue – en hy wil ook deel van die planne wees. Lana wil graag hê Rakker moet troue toe kom, maar die res van haar gesin dink nie dit is ’n goeie plan nie. Kan Rakker hom lank genoeg soet gedra om ook na die troue genooi te word? Jong troeteldierliefhebbers sal versot wees op Lana en haar ondeunde hondjie, Rakker, se skreeusnaakse avonture. Lana en Rakker 8: Rakker en die troue is landwyd by uitgesoekte boewinkels beskikbaar, R100, LAPA Uitgewers.

 

Stoot en trek

In Plaasdiere en Wilde diere kan babas en peuters uitvind wat ons oulike dierevriende doen. Hulle geniet hope genotvolle hand-oog-koördinasie terwyl hulle na die vrolike prentjies kyk, die interaktiewe elemente stoot en trek, en die stewige bladsye vasvat. Bekoorlike illustrasies leer hulle ook dat diere op verskillende en opwindende plekke bly. Perfek vir klein vingertjies. Stoot hier en trek daar, en wat gebeur? Hope skaterlagpret en geleenthede om dinge te leer. Daar is twee titels in die reeks: Plaasdiere en Wilde diere. Stoot en trek: Plaasdiere en Stoot en trek: Wilde diere is albei deur Rachel Elliot. Illustreerder: Clare Fennell. Albei boeke is landwyd by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar, R80, LAPA Uitgewers.

Ek lees self-reeks

’n Liefde vir lees is een van die grootste geskenke wat jy vir jou kind kan gee. Hierdie reeks is die perfekte wegspringplek vir beginnerlesers. Vind uit wat gebeur as Rooi Hen op ’n dag besluit om brood te bak, stap saam met die drie Rammetjies Rof oor die nare ou trol se brug, en ontmoet ’n padda wat op ’n dag baie, baie kwaad geword het…

Die Ek lees self-reeks bestaan uit pragtig geïllustreerde boeke, elkeen met ’n prettige dierestorie wat in eenvoudige taal oorvertel word sodat beginnerlesers dit maklik kan baasraak. Elke boek bevat ook nuttige wenke wat ouers kan help om die jongklomp se leeslus aan te wakker. Titels is landwyd by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar, R50, LAPA Uitgewers.

Ek lees self: Rooi hen bak brood,

Ek lees self: Die drie rammetjies rof,

Ek lees self: Padda word kwaad,

Ek lees self: Muis red leeu se lewe,

Ek lees self: Die gans wat goue eiers kon lê en

Ek lees self: Sprinkaan leer werk

Skrywer:Wendy Maartens. Illustreerder: Zinelda McDonald

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.