People

En…aksie

En…aksie

Fliekvlooie sal hom herken van films soos Sy Klink Soos Lente en Vir die Voëls en nou is hy eersdaags in nog ‘n splinternuwe film, Vuil Wasgoed te sien. Ons gesels met Bennie Fourie oor sy rolle as akteur, regisseur, vervaardiger en skrywer.

Enigiemand wat al een van sy films gesien het sal kan getuig – Bennie Fourie het hope talent… en hy is skreeusnaaks.
Die boorling van Pretoria is gek oor improvisasie-werk en aanhangers raak skoon opgewonde wanneer hulle sy naam onderaan die filmkrediete sien.
Min weet egter hoe hard Bennie werk en hoeveel verskillende rolle hy in die industrie vertolk.
As leerling aan Laerskool Die Poort in Kameeldrift en daarna Hoërskool Overkruin, sou ‘n jong Bennie min kon raai dat hy eendag ‘n loopbaan in die kunste sou volg.
Met geen formele opleiding nie het die Pretorianer homself van die vermaaklikheidswêreld geleer deur improvisasie – werk te doen en soveel moontlik ervaring op te doen.
“Ek het myself maar geleer soos ek aangegaan het. Ek het selfs tonele geskryf en dit opgevoer. Ek het geweet ek moet iets doen wat my gelukkig maak,” vertel hy.
Hy het al sy hand aan regie, teks en toneelspel gewaag maar sê hy verkies vir eers om sy lyf akteur te hou.
“Ek is baie lief vir film. Dit word Afrikana wat op ‘n rak gesit kan word en vinnig weer en weer geniet kan word,” gesels Bennie wie se splinternuwe film, Vuil Wasgoed op 8 Desember landswyd in teaters begin wys.
Sy heel eerste Afrikaanse film was saam met sy goeie vriend en mede-akteur Bouwer Bosch in Mooirivier waar hy die rol van Spys vertolk het. Dit was juis gedurende die maak van dié film dat die twee met die idee vir Vuil Wasgoed vorendag gekom het. Hulle het pen op papier gesit, agter en voor die kameras ingespring en ‘n kortfilm gemaak wat met groot lof by die 2014 kykNET
Silwerskermfees ontvang is. Die reaksie was oorweldigend en die filmindustrie het notisie geneem.
Die kortfilm is sedertdien verwerk in ‘n vollengte film, en die span het met nie minder as vyf toekennings by vanjaar se kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai weggestap. Bennie spog ook trots met die toekenning vir beste akteur.
Vuil Wasgoed vertel die verhaal van Wim en Kevin wat al jare daarvan droom om hul eie koffiewinkel te besit. Terwyl hulle wag om dié droom te bewaarheid, werk hulle tydelik in ’n klerewassery. Die probleem is egter dat ‘tydelik’ sewe jaar geword het en dat die hoogtepunt van hul bestaan steeds die ‘leen’ van hulle kliënte se klere is om snags patytjies te ‘crash‘.
Hierdie stelsel werk goed en Kevin is selfs naby daaraan om die liefde van sy lewe te kry, tot ’n onderduimse juweelhandelaar verraai word, sy vinger afgesny word en dié se vinger in ’n baadjiesak by die wassery opeindig. Teen hulle wil word Wim en Kevin in ’n gevaarlike onderwêreld ingesleep. Kort op hulle hakke is twee broers met ’n ‘rash’, ’n blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en ’n ongenaakbare verraaier.
En iewers staan ’n skeepsvraghouer met ’n kosbare vrag en wag vir die hele spul om toe te sak.
Dié film spog met ‘n rolverdeling wat groot name in die filmbedryf soos Tim Theron, Stiaan Smith, Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Simoné Nortmann en Leandie du Randt Bosch insluit, en ons kan nie wag om Bennie in die karakter van Kevin te sien nie.
“Kevin is bietjie naïef en hy wil meer uit die lewe hê as om ander mense se klere te was. Hy wil graag iets anders doen. Iets groter wat meer gaan beteken. Maar hy weet net nie hoe nie.
Eers as hy toelaat dat sy goeie vriend Wim hulle lekker uit hul gemaksone trek, dan begin die dinge vir hom gebeur,” verduidelik Bennie wat die skrywer en ook een van die vervaardigers is.
“Kykers kan ‘n aksie-komedie verwag soos hulle nog nie in Afrikaans gesien het nie. Dis ‘n slick cool fliek wat jou regtig gaan laat lekker voel. Natuurlik het ons ook vir Nico Panagio in…spesiaal vir die tannies,” skerts hy verder.
As skrywer van die film ken Bennie sy karakter deur en deur – drie jaar lank al om presies te wees.
“Ek het so bietjie van ‘n onregverdige voorsprong siende dat ek so lang tyd al in die karakter se skoene spandeer. Maar daarna moet die skrywer vir die akteur plek maak. Ek het regtig probeer verstaan hoe die karakter anders is as ek en sy omstandighede vir myself so te skep dat ek dit regtig glo.
“Eers as ek dit glo, kan ek iets speel wat die kyker sal glo.
“Ek skryf briewe vir myself en plak posters op van wat ek dink die karakter van hou en luister na musiek waarvan nie ek nie, maar die karakter van sal hou,” verduidelik Bennie sy proses.
Dit het vyf weke geneem om die film te verfilm en daar is sowat 12 ure per dag op stel spandeer.
Vir nou werk Bennie aan die nuwe Quintin Krog film, ‘n Ander Mens voordat hy en die res van die akteurs die lang pad aandurf as deel van die landswye
bemarkingstoer vir Vuil Wasgoed.
Enige drome of planne vir 2018?
“Om aan te hou skryf, skep en leer. Ook om meer tyd saam my familie en vriende te spandeer. Mens raak vinnig vasgevang in mens se werk en skeep jou persoonlike lewe af,” gesels Bennie.
Hy en sy gesin pak graag saam avonture aan.
“Ons het al ‘n paar keer die Oranjerivier sonder gidse gaan roei en het mees onlangs die Sowa panne in Botswana met hoërskool-meisie-bromponies aangedurf,” voeg hy by.
Maar vir eers is dit Kersfees en tyd om saam met geliefdes te ontspan.
“Skakel heeltemal af en vier Christus en wat Hy vir ons kom doen het,” sê hy.

Vuil Wasgoed begin op 8 Desembers landswyd inteaters wys.

 

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.