People

Op nóg 15 jaar!

Op nóg 15 jaar!

Na meer as agt albums en ‘n digbundel vier Jak de Priester vanjaar 15 jaar in die musiekbedryf. Ons gesels met hom om bietjie meer oor sy loopbaan en sukses uit te vind.

Jak de Priester is so sinoniem met Pretoria soos die pers Jakarandas in Oktober. Wie ken dan nou nie sy groot treffer Sally Williams Nougat nie?
Hierdie jaar vier Jak 15 jaar in die mu-siekbedryf en spog ook reeds al met sy eie liedjiebord in die FAK-liedjietuin by die Voortrekker Monument.
Om dié mylpaal te vier het hy ‘n splinternuwe album, 15 Jaar, die lig laat sien.
Maar, moenie dink dit is maar net nog ‘n kompilasie album met van sy grootste treffers nie. Dit bestaan uit splinternuwe liedjies wat hy die afgelope twee jaar uit sy pen laat vloei het.
“Ek skryf nogal baie oor die wêreld waarin ek leef, en die omgewing waarin ek bly. Met my debuutalbum, Sally Williams Nougat, het ek in Brooklyn gewoon en bekend geword as die Brooklyn-poet juis omdat ek oor Brooklyn en die Groenkloof-SPAR liedjies geskryf het.
“Deur my musiek weet mense waar ek myself bevind. Ek skryf graag oor Suid-Afrika, myself, my kinders, die lewe wat ons lei en ons politieke omstandighede,” verduidelik Jak.
“Ek dink omdat ek skryf oor die wêreld waarin ek leef – as man, as eggenoot, as pa – is daar altyd mense wat daarmee kan assosieer,” voeg hy by.
Vat nou maar die treffer wat sy loopbaan laat vlamvat het.
Alhoewel dié nougat deesdae vreeslik bekend is, het almal nie noodwendig 15 jaar gelede daarvan geweet nie.
“Ek en my meisie Michelle (nou my vrou) het dit altyd geëet. Sy was gek oor dié nougat en ek het baie naby aan die Groenkloof SPAR in ‘n tuinwoonstel gewoon. Ons was baie jonk, vreeslik verlief en dit het so half ons romantiese ritueel geword,” gesels Jak.
Die paartjie het gereeld by die SPAR gestop om nougat te koop en sommer ook by die destydse Cafe 41 koffie gedrink. Dit is waar die “koffie met die skuim op” lirieke vandaan kom.
Die jong verliefdes se geluk was egter van korte duur en hulle paadjies moes vir ‘n kort rukkie skei toe Michelle na Engeland toe is vir ‘n werkende vakansie.
Die arme Jak moes alleen agterbly en was gebroke. Hy het na papier gegryp en die Sally Williams Nougat treffer geskryf, minwetende dat die liedjie soveel hartsnare sou roer en dat soveel ander in dieselfde bootjie as hy was.
Baie ma’s moes hul kinders afsien om oorsee te gaan werk soek en baie paartjies was in dieselfde bootjie as hy.
Die sanger en sy gesin woon reeds die afgelope ses jaar in Hennopspark, maar
Jak noem Pretoria reeds vir meer as 20 jaar sy huis nadat hy as 18-jarige sak en pak vanaf die Vrystaat hierheen verhuis het.
Hy het reeds as klein seuntjie besef dat hy eendag ‘n loopbaan in die kunste wou volg en verduidelik dat hy glo ‘n mens word eerder vir ‘n lewe in die vermaaklikheidswêreld gebore as wat jy dit vir jouself kies.
Hy het vroeg in sy lewe reeds begin toneelstukke skryf en het op skool gereeld produksies vir sy tienertoneelgroepe geskryf.
“Ek onthou op skool was die program Orkney snork nie vreeslik gewild en ek was verskriklik jaloers op die karakter van Wimpie. Ek het gewens ek was die ou wat daardie karakter gespeel het,” lag hy.
‘n Loopbaan in die kunste was onvermydelik en nou blyk dit dat selfs sy kinders moontlik eendag in sy voetspore gaan volg.
“My oudste twee kinders, Jamie (7) en Mia (6), is altwee nogal baie musikaal en sing en dans graag. Mia is baie nootvas en Jamie het onlangs vir sy kultuuraand sy eie liedjie geskryf,” vertel Jak trots.
Behalwe vir sy liedjies en verhoogproduksies ken aanhangers hom ook as aanbieder van die kykNET-reeks Reis na Gister. Jak vertel dat die reeks moontlik weer in 2018 op die kassie te sien sal wees. In dié reeks reis hy saam met talle Suid-Afrikaanse bekendes na plekke uit hulle verlede om kykers ‘n meer intieme blik op die glanspersoonlikhede te gee.
Hy lees graag en is ook ‘n groot aanhanger van plaaslike musiek.
“Ek is gek oor Karen Zoid se musiek maar kan nooit wag as legendes soos Amanda Strydom, Koos Kombuis, Laurika Rauch en Coenie de Villiers nuwe albums uitreik nie. “Ek is hooked op die ouer garde se musiek,” gesels hy.
As hy nie besig is om liedjies te skryf of om met sy nuwe album die land vol te reis nie, maak hy planne vir die Kerstyd.
Hy is tot middel Desember nog met vertonings regoor die land en in Pretoria besig, maar daarna vat hy en sy gesin die langpad Kaap toe. ”Ons gaan bietjie in Langebaan, Kleinmond en George kuier maar waar ons op Kersdag gaan wees is ek nog nie seker nie. Maar solank ek, my vrou en die drie kinders bymekaar is, is alles fantasties.”
* Jak se album 15 Jaar is landswyd by uitgesoekte musiekwinkels beskikbaar.

 

June Spoil 2018


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.