People

Van G.I Jane tot sangsensasie

Van G.I Jane tot sangsensasie

Sy woon reeds vir die afgelope 17 jaar in Doornpoort en is al ‘n ou bekende in musiek kringe. Maar het jy geweet Jennifer Zamudio was eens op ‘n tyd in die weermag? Ons gesels met haar om meer uit te vind.

Haar treffers speel reeds vir jare radiostasies regoor die land aan die brand, maar min sou kon raai dat Jennifer Zamudio as jong meisie eintlik daarvan gedroom het om ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Weermag te word.
As 18-jarige trek die boorling van die Weskus sak en pak na die Jakarandastad vir opleiding en dit was juis hier, tydens ‘n werksfunksie, dat sy haarself vir die eerste keer agter ‘n mikrofoon bevind. “Ek het by ‘n werksfunksie gesing toe een van my kollegas vir my Anneli van Rooyen se nommer gee.
Ek het haar gekontak en het by haar sangskool, Promuzik ingeskryf – en soos hulle sê, die res is geskiedenis,” gesels die borrelende Jennifer.
Die bekende Annali was reeds vir jare haar mentor, en by Promuzik het Jennifer haar alles gegee. Soveel so dat sy tydens die laaste optrede as deel van die skool as kunstenaar met die meeste potensiaal en vir die kunstenaar met die beste optrede vereer is.
“Ek onthou nog hoe erg dit vir my en my familie was om Pretoria toe te trek want as ‘n weskus-kind, was ek nog nooit weg van die huis af nie.
“Alhoewel ek in die koshuis was op Malmesbury, was dit baie naby aan my tuisdorp, Veldrif. Die skuif Pretoria toe was omtrent ‘n groot tranedal,” vertel Jennifer.
As nuwe kunstenaar wou Jennifer iets doen wat haar laat uitstaan en aanhangers sal onthou dat sy haar hare pers gekleur het.
“‘n Vriendin het voorgestel dat ek my hare pers kleur. Dit het gewerk! Alles was pers, my uitrustings, naels, hare. Die jongmense het gedink dis baie ‘cool’, maar ‘n paar ouer garde het gedink ek is ‘weird’.
“Die media het my gedoop ‘Die singende pers sensasie’,” lag sy.
In die jaar 2000, durf sy en haar bestuurder die langpad Oudshoorn toe aan vir die jaarlikse KKNK waar sy haar professionele debuut as kunstenaar maak.
Sy het van verhoog tot verhoog gegaan en gesing en uiteindelik die oog, of eerder oor, van bekende musiekpromotor Lydia Winchester gevang.
Die het gesorg vir haar eerste platekontrak.
Vanjaar strek haar loopbaan reeds oor meer as 15 jaar, maar Jennifer vertel die gevoel van opgewondenheid wanneer ‘n nuwe album uiteindelik sy verskyning maak gaan nooit heeltemal weg nie.
“Elke nuwe CD is soos ‘n baba wat jy moet grootmaak. Maar dit is ook ‘n senutergende proses, want jy moet elke keer maar hoop jy slaan die kol raak met die uitreiking,” verduidelik sy.
En ja, sy raak steeds senuweeagtig voor ‘n optrede. “Veral daardie laaste paar minute net voor ek op die verhoog stap.
“Ek vra myself elke keer: hoekom doen jy dit aan jouself? Totdat ek die eerste noot sing, die mense sien, en ook hulle reaksie sien – dan besef ek elke keer opnuut hoekom ek dit doen! Gé Korsten het altyd gesê ‘n mens moet nooit te gemaklik raak nie want dit hou jou op jou tone,” lag sy.
As kunstenaar het sy al in die pop, kontemporêr en country genres gaan delf maar Jennifer vertel dat haar jongste album, Ongelooflik beslis haar grootste uitdaging tot nou toe was.
“Dit was ‘n baie spesiale projek saam met Allen McKendree in Nashville en omdat ek met internasionale liedjieskrywers, wat nie ons mark of ons taal verstaan en ken nie, gewerk het was dit moeilik.
Die aanslag van country musiek is ook anders as met byvoorbeeld pop musiek. Maar ek dink omdat ek so ‘n liefde vir country musiek het, het dit makliker gegaan as wat ek gedink het,” vertel sy verder.
Haar loopbaan het oor die jare internasionale grense oorgesteek en Jennifer is vroeër vanjaar gekies om Suid-Afrika by die internasionale sangkompetisie SuperXtar te verteenwoordig.
“Na die vrystelling van my album, 15 Jaar Spesiale Uitgawe, het ons die mu-
siekvideo vir Sê dit harder, geskryf deur Rudi Claasse, vrygestel.
“Kort daarna het die CEO van die SuperXtar kompetisie, George Ruiz, my persoonlik uit die VSA gekontak en genooi om my video in te skryf,” verduidelik Jennifer.
In die kompetisie ding kunstenaars van regoor die wêreld om beste musiekvideo mee en Jennifer is deur na die finaal. Die wenners sal later vanjaar bekend gemaak word.
Vir nou is Jennifer kliphard aan die werk aan ‘n nuwe album. “Dit sal weer ‘n pop of kontemporêre aanslag hê, maar ek moet erken: I feel the pressure.
“Nadat my album Ongelooflik, ‘n Ghoematoekenning gewen het, is die druk erg om ‘n beter produk te lewer as die vorige een.
Maar een ding is seker, my mense sal nie teleurgesteld wees nie!”

 

 

The ultimate makeover with WOW Hair and Image Emporium


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.