People

Volstoom vorentoe!

Volstoom vorentoe!

Haar splinternuwe film begin eersdaags in teaters regoor die land wys en aanhangers kan eenvoudig nie genoeg van Elani Dekker kry nie.

Gebore en getoë in Pretoria, staan dié talentvolle aktrise vir niemand terug nie. Kykers sal haar onthou vir haar rol as Yvette Verwey in die Afrikaanse tienerfilm Jou Romeo en kan aan die einde van die maand daarna uitsien om haar weer op die silwerdoek te sien.
Dié keer as Pizzaface in die Corné van Rooyen film, Vaselinetjie. “Vandat ek kan onthou het stories my geboei. In graad 9 het ek ‘n dramakursus by Lelia Etsebeth en Jacques Bessenger gedoen en na die eerste dag gevoel asof ek vir die eerste keer wakker geword het. Dit is wonderlik om steeds vandag, jare later, vir ‘n lewe nog te kan toneelspeel,” gesels die borrelende 19-jarige van die Moot. Elani het tuisonderrig ontvang waarna sy in 2017 die kans gekry het om danksy ‘n studiebeurs by die gesogde New York Film Academy ‘n kursus te voltooi.
Oor haar jongste rol kan Elani nie uitgepraat raak nie. “Pizzaface het in die kinderhuis beland nadat haar ma haar vir drankgeld verkoop het. Sy is seker een van die mees optimistiese mense wat ek al ooit gesien het en alhoewel sy van kleins af aan die mees ondenkbare slegte ervarings in die lewe blootgestel is, leef sy elke dag voluit,” gesels sy. Elani vertel dat sy vir ‘n maand op stel was om die film te skiet en dat steltyd skofte sowat 12 uur lank was. “Dit het alles afgehang van hoeveel tonele ons skiet, watter tyd van die dag of nag die storie afspeel en of Pizzaface deel is van ‘n betrokke toneel. Partykeer het ek ses uur in die oggend begin en ander kere eers duskant middernag klaargemaak,” vertel sy. Vir Vaselinetjie kon Elani skouers skuur met gesoute akteurs soos Sharleen-Surtie Richards en Royston Stoffels, een van die vele groot oomblikke van haar loopbaan. “Om te kon sien met watter aanslag en ‘attitude’ hulle op stel en agter die skerms optree en die voorbeeld wat hulle gestel het was inspirenend,” gesels sy.
Die film, gebaseer op die jeugboek deur Anoeschka Von Meck, vertel die verhaal van Vaselinetjie (Helena) Bosman wat by haar liefdevolle ouma en oupa in ’n klein dorpie in die Noord-Kaap woon. Op 10-jarige ouderdom word sy na ’n weeshuis in Gauteng gestuur omdat sy wit is en nie haar bruin grootouers se biologiese kleinkind is nie. Dit is 1993 en Suid-Afrika staan op die rand van onherroeplike verandering en soos die land transformeer, word Vaselinetjie ’n jong vrou. Die weeshuis in Johannesburg is ’n vreemde, ongenaakbare en gevaarlike wêreld. Daar traak niemand hulle oor jou nie, en leer jy ook om oor niemand te traak nie. Dit is eers wanneer Vaselinetjie verlief raak op “Texan Kirby”, ’n aantreklike, vurige kinderhuisseun dat een van haar grootste uitdagings aangespreek word: Die waarheid oor haar herkoms. “Vaselinetjie is ‘n oorspronklike Suid-Afrikaanse storie. Dit is een van daardie films waaroor jy vir ‘n paar dae na die tyd nog gaan dink en praat. Omdat dit so eerlik vertel word is daar aspekte in wat alle mense by aanklank sal vind.“Dis ‘n hoendervleis-lekkerkry-seerkry movie – mense wat nie bang is om met die realiteit van die lewe gekonfronteer te word nie sal hoop vind in Vaselinetjie se stryd met haar identiteit,” verduidelik Elani. Behalwe vir die promosiewerk vir die film is Elani ook in Oktober by Aardklop in die teaterproduksie DEURnis te sien. Dit is ‘n een-tot-een teaterstuk wat beteken dat sy slegs vir een gehoorlid op ‘n slag optree.
Die bedrywige aktrise is altyd aan die rondhardloop en vertel dat sy gek is oor kursusse en werkswinkels. “Wanneer ek nie besig is om stories te vertel nie, dan is ek besig om te leer hoe om stories beter te vertel,” lag sy.
Wanneer sy wel tyd het om te ontspan, lees Elani graag of spandeer tyd saam met haar hartsmense. En sy is natuurlik self ook gaande oor films en fliek graag. Enige advies vir jong aspirant akteurs wat oor die silwerskerm droom?
“Wees gereed, berei voor en leer hoe om jou talente te gebruik. Alles in ‘n kunstenaar se lewe is onseker, maar jy het wel beheer oor die kwaliteit van jou kuns. Wat moet gebeur sal gebeur, wees jy net voortdurend besig om te groei in jou ‘craft’,” gee Elani raad.

Meer oor Elani:
Wat is jou gunsteling sjokolade?
Lindt dark chocolate is my dood…maar moet dit asb nie vir mense sê nie, want dan gaan ek dalk vinnig vet word!
Wat is jou gunsteling dis?
Toni’s Pizza se Marina pizza.
Wat is jou gunsteling skoonheidsgeheim?
Maskara en lipstick – lipstick maak alles net beter! Ek is so ‘n tipiese meisie.
Wat is jou gunsteling Pretoria koffiewinkel?
Vovo Telo in Lynnwood, hulle kaaskoek is “next level”!

 

Vaselinetjie begin op 22 September landswyd in teaters wys.

 

Celebrate the special moments in life with Nomination


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.