People

Haar passie is aansteeklik

Haar passie is aansteeklik

Kykers ken haar vir haar rolle in sepies soos Villa Rosa, Getroud met Rugby en selfs Isidingo. Maar wat weet jy regtig van die beeldskone Elsje Slabbert?

ltyd glimlaggend, mooi en geseën met soveel talent dat ons nie kan wag om haar eersdaags weer op die kassie te sien nie. Elsje Slabbert is beslis besig om haar merk in die vermaaklikheidswêreld te maak.
“Ek het van graad 1 af baie van die verhoog gehou en aan als van Eisteddfod tot skoolproduksies deelgeneem,” gesels die beeldskone Pretorianer oor haar liefde vir die kunste.
Behalwe vir drama was sy ook gek oor toerisme, maar dit was in graad 11, toe haar pad met die van haar geliefde dramaonderwyser, Jan Prinsloo by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier gekruis het, dat sy verseker geweet het dat sy ‘n loopbaan in drama wou volg.
“Sy passie vir die industrie was so aansteeklik,” verduidelik Elsje wat net na matriek sak en pak na Pretoria verhuis het om drama aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Die talentvolle aktrise glo egter daarin om altyd ‘n plan B te hê en voltooi na haar studies ook haar nagraadse opleiding in onderwys.
Sy begin haar loopbaan as hulponder-wyseres by Eduplex Laerskool en sluit ook by die Performing Lifestyle Institute (Pali) aan wat haar die geleentheid bied om aan verskeie teaterstukke te werk en ook regoor die land te toer.
Sy was juis besig om te repiteer aan ‘n Macbeth-verhoogstuk toe sy die oproep ontvang dat sy haar eerste televisierol, die karakter Suzie in die plaaslike sepie Isidingo, losgeslaan het. “Dit was net vir drie maande maar ek was uit my vel van blydskap,” vertel sy. Sy was so opgewonde dat sy haar twee beste vriendinne genooi het om die eerste episode saam met haar te kyk. “Daar was vlinders in my maag maar soos ek na myself op die kassie gekyk het, het ek heeltyd gedink: ‘Wow is dit hoe ek lyk en klink? Dis aaklig. Hoekom trek ek my gesig so’?”
Sy was vreeslik teleurgesteld maar erken tog dat sy dink dis ‘n goeie ding om net die beste van jouself te verwag.
Kykers van Getroud met Rugby was uit hul vel van opgewondenheid toe Elsje, na ‘n paar maande van afwesigheid, weer onlangs haar verskyning in die sepie gemaak het. Sy speel die rol van Anja du Toit en was net lank genoeg terug om in Maryke se slaai te krap en sodoende amper haar en Fafa se troue in die wiele te ry.
Deesdae hou sy haarself met liefdadigheidswerk besig, spesifiek ‘n organisasie met die naam van Judea Hope. “Dis ‘n liefdadigheidsorganisasie wat ongelooflik baie doen vir minder bevoorregte gemeenskappe. Van kleuterskole stig, onderwysers oplei tot kospakkies vir gesinne in nood,” verduidelik Elsje.
Hulle is juis nou besig om ‘n gholfdag vir 11 Augustus by die Silverlakes golfbaan te reël om die organisasie met fondse vir die kospakkies te help. “Baster die brak gaan daar wees om die kinders te vermaak en Altus Theart, David Louw, Marno van der Merwe asook Francois Jacobs is ons golfspelers vir die dag. Ampie sing die aand vir ons, en dan is daar ook ‘n kompetisie vir die mammas en pappas wat nie kan gholf speel nie,” gesels die borrelende aktrise verder.
Haar droom om eendag moontlik in die toerismebedryf te werk het na ‘n paar jaar ook uiteindelik ‘n werklikheid geword. Wanneer sy nie besig is om te werk nie, is Elsje aan die stuur van Ilha Linga Tours, ‘n vakansietoerbesigheid wat vakansieverblyf in Mosambiek uitverhuur. “My familie het ‘n lodge in die Inhambane-distrik van Mosambiek. Ons gaan vir die afgelope 10 jaar reeds elke jaar daarheen en dis net so verskriklik mooi dat ek besluit het ander mense moet dit ook sien. Op die oomblik fokus ek op die selfsorgeenhede wat ek uitverhuur. Die huisies is sowat 30m van die see op die skiereiland.
Haar lewe is vol en besig maar wanneer dit wel tyd is vir ontspan, geniet Elsje en haar man Marco dit om saam met vriende te kuier, saam met die familie weg te breek of net alleen op die stoep by hulle huis in Erasmuskloof te kuier. “‘Ons is die liefste vir ‘n braai op ons stoep met baie kerse, ‘n lekker kaasbord en goeie wyn,” verklap sy.
Augustus is Vrouemaand en ons wou natuurlik weet wat vrouwees vir Elsje beteken.
“Om met vrymoedigheid en onbeskaamd te weet wie ek is en wie ek wil wees,” kom die antwoord vining. Daar is heelwat vroue in die bedryf na wie sy opkyk. Antoinette Kellerman en Anna Mart van der Merwe is maar net twee van die vroue wie sy bewonder.
“Ek kyk ook vreeslik op na my ma vir die ma wat sy was en steeds is. Ek wil ook eendag so ‘n ma vir my kinders wees,” gesels Elsje trots.
Die grootste les wat sy tot dusver geleer het? “In God is ons tot alles in staat. Jy is wat jy dink en sê, so kom ons spreek lewe, kom ons droom groot!”antwoord sy dadelik en met passie.

Meer oor Elsje:
Gunsteling skoonheidsproduk…
Dermelogica se hydrating mask.
Hoe hou jy en Marco julle huwelik vars?
Praat altyd goed van mekaar.
Komplimenteer mekaar. Vergewe maklik. Moenie liggeraak wees oor als nie, soms het jou man net ‘n slegte dag gehad. Moenie lelik baklei nie, luister en reageer met respek. Doen tenminste eenkeer ‘n week n stokperdjie of aktiwiteit saam. Lag saam. Dans in die kombuis. Flirt altyd met mekaar!
Enige oulike date night idees?
Ons almal het Google. Ek hou daarvan om in die kar te klim en iewers te gaan waar ek nog nooit was nie. Al gaan eet jy net roomys op ‘n koppie terwyl die son onder gaan. Soek en ontdek en beleef saam met jou man/vrou.
Dis die lekkerste.

 

The ultimate makeover with WOW Hair and Image Emporium


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.