Entertainment

Het jy al Len Muller se splinternuwe album aangeskaf?

Het jy al Len Muller se splinternuwe album aangeskaf?

Musiek vir die siel.

Aanhangers en musiekkenners is gek oor sy musiek en nou is Len Muller se splinternuwe album, Oog van die Storm, uiteindelik op winkelrakke beskikbaar,

Hy het een van daardie unieke stemme, wat ’n gehoor in die palm van sy hand hou totdat die laaste noot wegsterf. Sy nuwe album beloof om aanhangers se tone te laat omkrul van lekkerkry.

Die album kan as Afrikaans-Akoesties beskryf word en sluit die klanke van al dié musikant se gunstelinginstrumente in – van die banjo en mondfluitjie tot die tjello en akoestiese kitaar.

“Ek wou graag skryf oor die seisoene wat ’n mens beleef. Partykeer is dit ’n ‘Doodgewone Avontuur’ en soms bevind jy jouself in die ‘Oog Van Die Storm’,” sê Len.

Miskien lê die vreugde van die lewe daarin om nie daarteen vas te skop nie, maar om dit te vier, sê hy,

“Die album het soortvan twee kante soos die liedjies verskil in styl.”

“Ek het ook twee vervaardigers gehad. Gideon Botes het gewerk aan die meer kontemporêre liedjies op die album en Francois de Klerk het die meer alternatiewe liedjies verwerk.”

Len sê die album het ook ’n bietjie Blues in.

“Dit is ’n genre wat ek nog altyd wou opneem en ek en Dan Patlansky het kragte saamgespan om ’n liedjie op te neem.”

Len se solo-loopbaan het in 2012 afgeskop toe hy Richardsbaai vir Pretoria se stadsliggies verruil het.

Sy debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is, het hom amptelik aan die musiekbedryf bekendgestel en heelwat treffers en benoemings (Ghoema- en Tempo-benoemings vir Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar) opgelewer.

Treffers soos Smag na Jou, die debuutenkelsnit, is vandag steeds ’n gunsteling en is gebruik op die klankbaan van die romantiese komedie, Strikdas.

Die Een Wat Geval Het, wat in 2016 saam met Joshua na die Reën uitgereik is, het groot opslae gemaak en kry steeds gereeld speeltyd op die radio en kassie.

Alhoewel die musikant verantwoordelik is vir die meeste van die snitte op die nuwe album, het hy ook saam met ander talentvolle musikante gewerk.

“Die titelsnit het ek saam met Mynhardt Smit geskryf. Dit beskryf mooi die seisoen waarin ek myself bevind op die oomblik.”

“Die eerste album, Doodgewone Avontuur, was vir my so half ’n geloofsprong in ’n onbekende wêreld en nou is ek in die middel van daai ‘storm’. Ek wil met die album iets sê van God wat die vrede en kalmte vir jou kan wees in die ‘oog’ van die storm.”

Hy sê wanneer als om jou lyk of dit ’n warrelwind is, kan jy veilig en kalm wees in God se hand.

Die Gang, ’n ou Laurika Rauch-treffer uit die pen van Chris Torr, kry ook ’n nuwe baadjie op die album en die eindresultaat is hoendervleismooi.

“Ek het die voorreg gehad om vir een van Laurika Rauch se ou bekende liedjies ’n nuwe baadjie aan te trek,” sê Len.

“Luisteraars kan uitsien na ’n nuwe, vars verwerking van die lied op my nuwe album.”

Laurika sê: “Len se stem is aangrypend en sy verwerking van die liedjie is bevange. Ek hoop dit doen geweldig goed.”

Sing vir Sente, die tweede wat hy saam met Faraway George geskryf het en ook die tweede enkelsnit vanaf dit album, is op 5 Junie uitgereik en kan gereeld oor die radio gehoor word.

“Ek en Faraway het albei ons werk bedank en stad toe getrek om voltyds in die musiekbedryf te werk.”

Hy sê die skuif was nie altyd maklik nie en kos heelwat meer opofferings en harde werk as wat ’n mens aanvanklik dink.

Len sê hulle wou graag die storie vertel en diep uit die hart uit skryf.

“Ek glo dat mense met die storie sal kan vereenselwig, omdat baie van ons op ’n stadium in ons lewens eers moet ‘Sing vir Sente’ om iewers te kom.”

“Dis ’n goeie ding, want dit bou ’n stewige fondasie en hou jou voete op die grond. Party mense kry net een kans om hulle droom te volg, maar niks wat ooit die moeite werd is kom maklik nie.”

Die album se eerste goedvoel-enkelsnit, Ek Glo, is ongelooflik goed ontvang en het verskeie weke op die nommer een posisie van verskeie treffersparades gekuier.

Die musiekvideo was ’n kitssukses, is reeds deur duisende mense op YouTube gekyk en kan ook gereeld op die kassie gesien word.

“Die lied kom uit ’n seisoen waar ek heelwat geloofspronge moes vat om dit te doen wat ek geroep is om te doen. Geloof het ’n groot rol gespeel om my deur hierdie moeilike tyd te dra.”

“Ek wou graag ’n lekkerluisterliedjie skryf, waarop mense kan dans of selfs om die braaivleisvuur kan geniet.”

 

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.