Entertainment

Durf jy die profeet teëgaan?

Durf jy die profeet teëgaan?

As jy nog nie jou hande op Chanette Paul se spanningsroman Meetsnoer gekry het nie, mis jy beslis uit.

Haar boeke verkoop soos soetkoek en aanhangers staan behoorlik tou om hulle hande op haar jongste titels te kry.

Meetsnoer is die vierde spanningsroman uit die Gys Niemand-reeks wat in Niemandsdorp afspeel.

Raine Quinn koop Fluisterbos, ’n stukkie paradys in die Overberg, want sy wil wegbreek uit ’n lewe van geweld.

Ongelukkig is daar listige mense wat dieselfde stuk grond wil hê en hulle sal nie vir ’n oomblik huiwer om moord te pleeg ten einde hulle doelwitte te bereik nie.

Dit besef Raine die eerste aand reeds.

Oor die volgende aantal aande kruis haar paaie té gereeld met ’n sekte van die Meetsnoer-Tempel onder leiding van profeet Sias.

Hoe meer sy uitvind, hoe banger word sy.

Die sekte glo hulle gaan binnekort weggeraap word, maar is dit waar?

Is dit nie dalk ’n rookskerm om seker te maak Sias kom weg met die miljoene wat aan die sekte behoort nie?

Inspekteur Gys Niemand en Fortuintjie moet weer hulle speurvernuf inspan – ondanks teenkanting in eie geledere, want ’n mens mag mos nie ’n profeet se woorde in twyfel trek nie?

Meetsnoer is ’n uitstekende spanningsroman en een van die rigtingwysers na Chanette Paul se toekoms as een van Suid-Afrika se gewildste misdaadskrywers.

Details: R270, LAPA Uitgewers.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.