People

Dad, hierdie jaar  is net vir jou

Dad, hierdie jaar is net vir jou

Sy spog eersdaags met ‘n splinternuwe album en is op die Classics is Groot verhoog te sien. Get It se Mariëtte van Niekerk het met Monique Steyn gesels om meer oor haar loopbaan, gunsteling plekke in Pretoria en natuurlik haar nuwe album uit te vind.

Sy is beeldskoon, talentvol en haar stem is genoeg om jou na ‘n ander dimensie te verskuif. Ons praat van die Pretorianer Monique Steyn, natuurlik.
Haar splinternuwe album is een van die dae op winkelrakke beskikbaar en sy is besig om die laaste los drade vas te knoop voor die album na die produksie fase oorgaan.
Aanhangers is gaande oor haar en volg haar in hulle duisende op sosiale media maar het jy geweet dat Monique elke jaar ten minste drie keer van skole verwissel het totdat die gesin uiteindelik, toe sy in graad 6 was, in Pretoria kom nes skrop het?

“Na skool wou ek eintlik sielkunde gaan studeer maar Floors Oosthuizen, wat saam met my op skool was, het my vertel van hierdie musiekprogram by die destydse Pretoria Tegnikon,” vertel Monique waar ons rustig oor ‘n koppie koffie by Tribeca in Lynnwood Bridge gesels.
“My ouers het ingestem en ek het Ligte Musiek gaan studeer.” Sy vertel dat sy toe reeds begin skouer skuur het met bekende name soos Anna Davel en Joe Niemand.
Na die voltooiing van haar studies slaan sy ‘n rol as deel van die verhoogproduksie Girl Talk los en trek sak en pak na die goudstad. Van daar het sy by die Barnyard-teater aangesluit en dit was juis tydens een van haar vertonings wat ‘n Afrikaanse musiekmaatskappy haar raakgesien het.
Haar eerste album was in die dans-genre en aanhangers kon eenvoudig nie genoeg van haar duet met die sanger Snotkop kry nie. Die album het tientalle toekennings ingeryg en Monique was oornag ‘n sangsensasie.

Daarna het sy haar by die bekende groep Vuurwerke, saam met Nicholis Louw, Ray Dylan en Elizma Theron gevoeg en die vierstuks het die een na die ander toekeninng ingeryg. Haar tweede album, Pink Champagne, het ook in hierdie stadium die lig gesien.
“Anders as met die vorige album wou ek hierdie keer oor my eie persoonlike ervarings skryf en liedjies sing waarin ek glo – ek wou die woorde glo,” vertel Monique.
Na ‘n suksesvolle loopbaan as deel van die Vuurwerke vierstuks besluit Monique egter om die groep te verlaat en weer op haar solo loopbaan te fokus.
Nou, drie jaar na die vrystelling van haar Pink Champagne album, het sy weer ‘n splinternuwe album op pad en kan nie wag totdat dit uiteindelik op winkelrakke beskikbaar is nie. “Daar is nie een liedjie waarvan ek nie hou nie en nie een liedjie wat nie inpas nie,” gesels sy en glimlag breed. Die album is grotendeels deur Johan Oberholzer geskryf.
Dit het sowat ‘n jaar en ‘n half geneem om die album aanmekaar te sit en Monique vertel dat dit voel of die musiek werklik hare is. Sy sing ook nou onder haar naam en van, Monique Steyn, ‘n ode aan haar familie. “Ek voel ek is meer volwasse as voorheen en was ook baie meer betrokke by die maak van die album in vergelyking met die vorige twee albums,” verduidelik die Pretorianer.

Haar gunsteling liedjie op die album?
“Beslis Onder die Invloed. Dit gaan daaroor dat jy so onder die invloed van iemand anders kan wees dat jou hele wêreld van daardie persoon afhang. Om so oorweldig te wees deur iemand anders se liefde dat jy dinge doen wat jy nooit andersins sou doen nie. As ‘n mens jonk is raak ‘n mens verlief op die idee van iemand en nie op die werklike persoon nie.”
Sy beskryf die album as volwasse kontemporêr en aanhangers kan vir die eerste keer ook uitsien na ‘n paar Christelike liedjies. “Dit is my manier om dankie te sê vir al die seëninge wat ek ontvang het,” verduidelik die donker skoonheid.
Seëninge soos die liefde van haar lewe JP Moggee, wonderlike familie en vriende en ook haar ouers. Sy beskryf haarself as ‘n regte “pappa-se-dogterjie” en vertel dat haar pa haar gewys het watter tipe man goed genoeg is vir haar. “Nie om my ma uit te sluit nie, sy is ‘n baie groot deel van my loopbaan, maar my pa het my geleer om nie kwaadgevoelens oor te hou nie en om by jou morele waardes te bly. Ook om hardlop te lag.”
Enige spesiale boodskap vir jou pa op Vadersdag?
“Dad, hierdie jaar is vir jou want jy het van die begin af geglo. Ek weet pappa gaan sê: I told you so,” lag Monique.
Monique is ook later vandeesmaad op die verhoog in die Classics is Groot konsert by die Moreletapark-auditorium tussen 23 and 24 June. Musiekliefhebbers kan uitsien na groot name soos Amira, Jannie Moolman, Corlea, Touch of Class, Coleske, Joseph Clark, Swing City, Charl du Plessis en die Joburg Ballet Company.
Kaartjies is by www.ticketpros.co.za beskikbaar.

 

 

 

The ultimate makeover with WOW Hair and Image Emporium


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.