People

Besiger as ooit

Besiger as ooit

Om ‘n oomblik van dié talentvolle Pretorianer se tyd vas te pen is omtrent moeilik. En nou het Willem Botha uiteindelik ‘n splinternuwe album wat eersdaags beskikbaar is.

Aanhangers ken hom vir treffers soos Ek Reik Na die Sterre en Breek op in Stereo maar min weet dat hy reeds jare voor hy bekendheid as sanger verwerf het eintlik daarvan gedroom het om ‘n akteur te word. Dit het heel per toeval gebeur dat sy sangloopbaan voor sy toneelloopbaan vlam gevat het.

“Ek het drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en in my eerste jaar aan die Afrikaans Idols deelgeneem waarin ek tweede geëindig het,” verduidelik Willem.
Sy eerste groot rol was in die 2010 musikale film Liefling Die Movie waarin hy die karakter van Gerrit vertolk het.

“Ek het altyd geweet ek wil nie net ‘n sanger wees nie. Sang en toneelspel is vir my ewe belangrik,” gesels hy.
Willem se liefde vir die kunste het reeds as klein seuntjie op die plaas in Riversdal in die Suid-Kaap posgevat, maar Willem glo nie dat mens net een dag wakker word en besluit om ‘n loopbaan in die kunste na te jaag nie.

“Musiek is iets waarmee jy gebore word – dit vloei deur jou are. Ek dink dit hang net van jou af hoe groot jou passie is,” verduidelik hy.
Willem het op die ouderdom van 17 reeds geweet dat die verhoog is waar hy eendag wou wees. Sy eerste herinnering van die verhoog was in graad een tydens sy laerskool se jaarlikse revue. “Ek was een van die Zoeloe-dansertjies en het daar reeds ‘n liefde vir die verhoog begin kry,” gesels Willem en gee een van sy kenmerk- glimlagte.

Tog is ‘n loopbaan in die kollig nie kinderspeletjies nie en vereis dit baie harde werk.
“Teaterwerk vereis sonder twyfel die meeste voorbereiding en werk. Ek het nou al drie teaterproduksies gedoen en dit is van die hardste wat ek al in my loopbaan moes werk. Daar gaan maande se repitisies daarin om die stuk op die verhoog te kry,” verduidelik Willem wat in produksies soos Tree Aan, Reik na die Sterre en Altyd in My Drome te sien was.
Elke jaar probeer Willem een groot projek aanpak waarop hy al sy aandag tussen optredes kan fokus en vandeesmaand, na vyf jaar kan aanhangers uiteindelik uitsien na ‘n splinternuwe album.
Sy nuwe album Soen en Vergeet, is vanaf 5 Mei op winkelrakke regoor die land beskikbaar en Willem is kinderlik opgewonde oor die vooruitsig. “Ek kan nie meer wag nie,” vertel hy. Die album is vernoem na die titelsnit en Willem verduidelik dat dit ‘n liedjie is waarmee elke luisteraar sal kan vereenselwig.

Dit het drie lang jare geneem om die album uiteindelik gereed te kry en dit is ook die eerste album waarvoor Willem meeste van die liedjies self geskryf het.
“Ek dink die grootste verskil tussen hierdie album en my vorige albums is my ouderdom – ek is baie meer volwasse. Jy gaan dit in my stem en lirieke hoor. Ek het geskryf oor dinge waardeur ons as mense gaan en tydens die opnames het ons baie sterk op die stemkwaliteit gefokus.”

Oor watter liedjie op die album sy gunsteling is, is Willem tussen die boom en die bas. “Elke liedjie het ‘n spesiale plek ín my hart en ek het saam met elkeen ‘n pad moes stap – elkeen vertel ‘n storie van iets waardeur ek self in my eie lewe was. Maar ek is mal oor die liedjie met die naam van Whiskey.
En waar kry hy sy inspirasie vir sy liedjies vandaan? “Mense en hul stories. Ek is gek daaroor om na vertonings met mense te gesels en bietjie oor die reise in hulle lewens uit te vind. Ek het as gevolg van my loopbaan die voorreg om die coolste plekke te sien en mense te ontmoet.”

Wanneer Willem nie die land vol toer, besig is met repitisies vir ‘n verhoogproduksie of voor die kamera werk nie, is hy gek daaroor om met sy hande te werk. “Ek kan deesdae nie regtig net voor die TV sit en niks doen nie. Ek is mal daaroor om houtwerk te doen of om sommer bietjie in my tuin te werk. Wanneer ek by my ouers op die plaas gaan kuier, sal ek graag in die berge gaan perdry of net iewers stop en die natuurskoon om my inneem.”

Hy is ook ‘n kranige fotograaf. “Ek het nog altyd ‘n liefde vir fotografie gehad en het altyd op die plaas ons perde en ander diere afgeneem.
“Toe ek in Pretoria kom, het ek van my vriende en ook bekendes begin afneem en van die foto’s het in tydskrifte beland. Ek sien dit as ‘n ander manier om my passie vir kuns uit te leef,” gesels Willem.

Dié talentvolle jong man sorg ook self vir die stilering en grimering van sy mo- delle. “Ek doen dit eintlik maar net omdat ek so bietjie van ‘n perfeksionis tydens my fotosessies is en wil hê alles moet perfek lyk. Ek het myself maar so van Youtube videos afgeleer,” lag Willem.

Die aantreklike kunstenaar is een van die gewildste Afrikaanse kunstenaars en hy het altyd ‘n glimlag op sy gesig.
“Ek het besef dat om vriendelik te wees en ander met respek te behandel jou niks kos nie. Niemand is beter as ‘n ander nie. Daar is so baie lelik in die lewe, dat ek net so dankbaar is om te kan doen waarvoor ek lief is.”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.