People

‘n Man van vele talente

‘n Man van vele talente

Hy is jonk, aantreklik en het die vermaaklikheidswêreld aan sy voete. Televisiereekse, films, verhoogproduksies, noem maar op en hy was al daarin te sien. Nou kan aanhangers uitsien om hom in die rol van die prins in die pantomaime Doringrosie – Die Slapende Skone te sien.

Ma’s, hulle dogters en nou ook die kleingoed is gek oor Marno van der Merwe en dis nie moeilik om te sien hoekom nie. Drama en die kunste vloei sterk deur sy are. Gooi daarmee saam ‘n fantastiese stem en voor jou sit een van Pretoria se blinkste sterre.
Hy speel toneel, sing en dans. Wat meer kan die man doen?
Aanhangers sal hom ken vir sy rolle in televisiereekse soos Sterlopers en films soos Pretville en Modder en Bloed. Maar min weet dat dié talentvolle akteur en sanger eintlik graag ‘n professionele rugbyspeler wou wees.
Soveel so dat hy na skool vir die Valke in die eerste liga uitgedraf het. “Sport maak my nog altyd gelukkig en ek dink nogsteeds ek moes eerder ‘n sportpersoonlikheid as akteur geword het,” gesels Marno.
As kranige jong rugbyspeler wou die beserings egter net nie end kry nie. “Ek dink die lewe het eerder my loopbaan vir my gekies as ek self,” sê hy nadenkend.
Marno was sommer nog ‘n klein kannetjie by die Laerskool Rustenburg toe hy die eerste keer begin musiek maak het. En, met ‘n musiekonderwyseres as ma, hoe dan anders. Op 6-jarige ouderdom het hy homself geleer dromme speel en kort daarna kitaar. “Ek dink ek was 14 jaar oud toe ek besluit het om ook te leer kitaar speel. Ek het die dromme toe heeltemal gelos en eerder op kitaar gefokus omdat ek graag die praise en worship by die kerk wou lei,” vertel Marno. Vandag is hy spyt dat hy nie ook geleer klavier speel het nie. “Daardie tyd was klavierspel net vir meisies maar ek is nou spyt ek het dit nie ook geleer nie. Deesdae is dit nie so maklik om ‘n nuwe instrument te leer speel nie,” lag hy.
In 2008 het hy ‘n rol in ‘n Barnyard-produksie los geslaan, een van vele om te kom, en het sy loopbaan vat behoorlik vlam gevat. Daarna het rolle in musikespele soos Ester (2011), Dawid (2012), Jesus (2013) en Liefling (2013) gevolg. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Behalwe vir sy liefde vir die verhoog is Marno ook ‘n kranige perderuiter. “Ek het maar so op die rug van ‘n perd grootgeword. My pa is ‘n perdeafrigter en ek kon perdry voor ek kon loop,” gesels hy.
Deesdae vertolk hy die rol van die prins in die pantomime Doringrosie – Die Slapende Skone wat binnekort by Emperors Palace te sien is. “Ek was lanklaas op die verhoog en was weer lus vir ‘n uitdaging,” gesels Marno.
Wat maak teater opvoerings anders as enige ander medium, wou ons weet. “Teater vat baie energie en jy kry net een kans. Jy kan niks wegsteek nie en is heeltemal weerloos. Ek geniet dit vreeslik,” vertel die akteur wat sê dat hy nooit juis met senuwees sukkel nie.
Selfs sonder enige teateropleiding skitter Marno se ster helderder as ooit. Maar hoe gemaak as jy ook eendag sulke groot hoogtes wil bereik?

“Maak seker dat dit ‘n industrie is waarby jy betrokke wil raak, want dit gaan beslis nie net daaroor om bekend te raak nie. Ek het niemand geken nie en niks agter my naam gehad toe ek begin het nie. Ek het vir die eerste drie jaar nie eers ‘n agent gehad nie. Ek het net hard gewerk, gedroom en gebid… die geleenthede het vanself gekom.”

Soos sy lewensfilosofie dan ook lui: “hou aan beweeg”, is daar beslis geen tyd vir stil sit vir Marno nie. Sy album, Kalm jou Army verkoop soos soetkoek en hy is besig met repitisies vir Doringrosie – Die Slapende Skone. Daar is egter darm so bietje tyd vir ontspan.
Wanneer Marno nie werk nie geniet hy dit om aksie krieket te speel, te ski of saam met vriende en familie om die braaivleisvuur te ontspan. So nie, spandeer hy en sy meisie Loriska Bubb graag tyd saam. Musiekliefhebbers sal haar herken as deel van die musiekduo Mwah! Sy was ook saam met Marno in Sterlopers te sien as Dixie. Die paartjie is al meer as ‘n jaar saam en Marno vertel dat die geheim tot die sukses van hulle verhouding juis daarin lê dat hulle albei in die vermaaklikheidswêreld werk. “Ons verstaan ons loopbane en gun mekaar die tyd en spasie om dit te doen,” vertel Marno.
Vir nou kan aanhangers daarna uitsien om hom op die verhoog in aksie te sien, maar hy maak ook een van die dae ‘n draai op die gewilde sepie 7de Laan. Meer wil Marno nie verklap nie, maar een ding is seker, dié man lewe voluit.

 

The ultimate makeover with WOW Hair and Image Emporium


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.