People

Vertrou  die proses

Vertrou die proses

Katinka Heyns is een van ons land se bekendste rolprentmakers. Sy dra die hoed van aktrise, rolprentvervaardiger en regisseur en na al die jare in die bedryf is daar steeds geen keer aan dié bekende oud-Affie nie.

Een van haar eerste drama herinneringe is die van haar op ‘n parkbankie in Burghersdorp waar haar ouma gewoon het.
“Ek onthou vaagweg dat ek as kind ondermeer die rol van Abdoltjie gespeel het,” vertel Katinka. Abdoltjie was die breinkind van skrywer Alba Bouwer en die hoofkarakter in die reeks Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ‘n Maleiertjie in die Ou Kaap, wat in die laat vyftigerjare uitgegee is.
Haar grootword jare loop draaie deur Suid-Afrika en Katinka gaan onder meer skool in Kempton Park skool voordat sy aan die Afrikaans Hoër Meisieskool matrikuleer. Na die voltooing van haar drama studies aan die Universiteit van Pretoria tree Katinka eers as verhoogaktrise vir die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) en daarna vir die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) in stukke soos Jochem van Bruggen se Ampie, Pase van Strindberg, Die Koopman van Venesië van Shakespeare en Drie Susters van Tsjekof op.

Katinka het destyds gespot en gesê dat sy veel eerder met ‘n boer wou trou en met perde boer as om in die kalklig te lewe maar uiteindelik het die verhoog en die kunste gewen – iets waaroor aanhangers haar ewig dankbaar sal wees.
In 1969 maak sy haar rolprentdebuut in die film Katrina en slaan ook haar eerste hoofrol in die Jans Rautenbach film Jannie Totsiens los. Min mense weet egter dat Katinka haarself veel eerder in die skoene van ‘n onderwyseres as die van aktrise gesien het.
Dit was egter juis onder leiding van Rautenbach dat sy tydens die verfilming van die film Pappa Lap meer tyd agter die skerms begin deurbring het. Soveel so dat sy in die laat sewentigs ‘n loopbaan in regie begin oorweeg het.
Vandag spog sy met films soos Fiela se Kind (1988), Die Storie van Klara Viljee (1992), Paljas (1998), en Die Wonderwerker (2012) agter haar naam.

Enige raad aan jong vroulike regisseurs wat daarvan droom om eendag hulle name tot ‘n suksesvolle Suid-Afrikaanse film te voeg?

“Hulle moet net eenvoudig hard werk en soveel praktiese ondervinding as moontlik opdoen,” gesels sy. “Jy kan nie vervaardig voor jy nie al die aspekte van die begroting, ontwikkeling en navorsing, pre-produksie, produksie en na-produksie ken nie. As regisseur moet jy spel en kamera, inkleding, klank en na-produksie – redigering, gradering, die rol van musiek en grafiese elemente – verstaan. Alles begin by ‘n goeie draaiboek.”

Katinka se films het oor die jare duisende fliekflooie na teaters regoor die land gelok en nou kan aanhangers uitsien na ‘n splinternuwe film. Katinka en haar seun, Simon Barnard, het saam al meer as 60 dokumentêre programme vervaardig en nou span die twee weer kragte saam vir die film Die Rebellie van Lafras Verwey met Tobie Cronjé in die hoofrol, Katinka as rolprentvervaardiger en Simon as draaiboekskrywer en regisseur.
Die Rebellie van Lafras Verwey is ‘n tragikomedie gebaseer op die 1971 radiodrama en verhoogstuk deur Katinka se oorlede man, Chris Barnard.
Dit vertel die verhaal van Lafras Verwey, ’n aardsverlore siel wat nooit die werklikheid rondom hom kon aanvaar nie. Lafras werk in die Staatsdiens, maar hoor ander musiek in sy ore en droom drome oor ’n wonderlike toekoms. Hy sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding van ’n groot rebellie wat die gesig van die wêreld sal verander en wanneer hy vir Petra, ’n jong swanger vrou, onderdak neem, kry die rebellie vir hom selfs nog groter betekenis.

“Enige mens wat weet wat dit beteken om deur jou verbeelding weggevoer te word, behoort aanklank te vind,” gesels Katinka.
Oor die jare het Katinka en Chris gereeld saamgewerk, maar hoe is dit om so nou saam met familie te werk?
“My en Chris se dissiplines het verskil. My en Simon s’n net gedeeltelik. Tydens die verfilming van Die Rebellie van Lafras Verwey moes ons albei op die stel wees. Vir my rol as vervaardiger moes ek verskuif van die vertolkende kant, na die objektiewe en meer analitiese tegniese kant. Vir hierdie projek moes ons mekaar sien as vennote en nie ma en seun nie,” verduidelik Katinka.
Chris, wat in 2015 oorlede is, was nou saam met Simon en Katinka by die ontwikkeling van die draaiboek betrokke.
Hoe sou hy oor die eindproduk, die film, voel? “Ek glo hy sou dankbaar wees dat Lafras ‘uit die dood’ opgeroep is,” sê Katinka.

 

Spoil the woman in your life this Women’s day!


is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.